• Résumé en Afrikaans du Petit Bréviaire du Snobisme

     

    Volgens Moonen verg snobisme 'n voortdurende waaksaamheid, sowel as 'n presiese, weloorwoë en berekende instelling wat jou hele lewenswandel deurdring. Die kleinste foutjie kan vir die snob fataal wees. Moonen beweer ook dat snobisme vandag nie hoog genoeg aangeslaan word nie, omdat daar nie meer genoeg waardering bestaan vir 'n gevoel van meerderwaardigheid nie, en 'n tradisie van afstandelikheid ontbreek. As Calviniste is ons eenvoudig te ywerig en spaarsaam om tot groot snobisme te kan groei. Ware snobs werk immers nie, en is gaande oor luukses.

    Die vraag is egter hoe 'n mens een van hierdie uitverkorenes word, of miskien eerder, hoe jy sover kan kom om jouself as een van hulle te beskou. Die probleem is dat die snob homself moet maak. Vandag se snob kan hom nie roem op adellikheid en 'n ingebore sin vir luukses nie. Die afkoms van die woord verklaar alles (en 'n tikkie kennis van die etimologie kan geen snob skade doen nie): ``Snob'' kom naamlik van die afkorting ``s.nob'': sine nobilitate, of sonder adel. Die snob lei dus 'n eksklusiewe lewetjie, sonder om op ``ou'' geld te teer. Hy moet kan improviseer wat sy herkoms betref, een of ander kunssinnige studie (onvoltooid) gevolg het, 'n kennis van Frans hê, baie tyd oorsee deurbring en plaaslik in die regte plekke rondhang (liefs in kasjmiertruie en/of -jas). Jy moet geen natuurliefhebber wees nie (jammer, vierwielaangedrewe voertuie is 'n twyfelagtige bate). Jy moet daarby dubbelsinnige politieke uitsprake kan maak en nooit toeristeklas reis nie. Kortom, die bestaan van die snob is besonder ingewikkeld, onder meer omdat dit ook in totale armoede moet kan gedy.

    Die spelreëls van die snob bestryk velerlei terreine. Natuurlik leer die ensiklopedie jou in watter kringe om te beweeg, en watter soort verlede en afkoms jy jou kan verbeel. Maar ook 'n in-die-kol-klerekas en die regte soort hond, met die kos wat daarby pas, die regte tipe halsband en die winkel waar mens dit behoort te koop, word jou in die oor gefluister.

    Om begryplike redes staan dit nie so geskryf nie, maar 'n mens kan jou tog voorstel dat dit 'n ellende sou wees om met hierdie boek betrap te word. Die ware snob stel immers nie belang in wat ander van hom dink nie, en sal dus alle moontlike tekens van selfverbetering vermy.

    Die meeste mense se blote teenwoordigheid en enige vorm van kruipery irriteer die snob mateloos. Hy is in sy element as hy hom met 'n verveelde gaap uit die geselskap kan onttrek. Dis ook gepas om aan tafel te insinueer dat die kreef of kaviaar ``af'' is; en 'n uitgebreide kennis van die wynlys is vir enige snob onontbeerlik. Die boek verskaf dan ook 'n lys van nuttige wynterme en bied 'n inleiding tot die rituele rondom wynproe. Diegene wat hul weg kan baan deur dié oerwoud van reëls, wat terloops balanseer op die dun lyn tussen jappie-wansmaak en opperste elegansie, weet natuurlik ook watter lugdiens om te kies. Ná die tiende reis, sê hulle, groet Air France jou op die naam. Ook tref 'n mens in dié handleiding lyste van verbode woorde en begrippe aan. Tot die taboe-wêreld behoort: telefoonkaarte, kaasfondue, kontantafslagbewyse, kougom, kampeer-oorde, country-musiek, en soortgelye kaf. 'n Snob beweeg met walging deur die wêreld. Om jou uit hierdie verdorwenheid te red, bied die boek tallose snob-resepte en leefreëls vir elke seisoen.

    Maar selfs vir diegene wat aan al dié eise en voorwaardes voldoen, bly dit 'n ope vraag of hulle 'n volwaardige snob sou kon wees. Want daar is nog die hoofstuk oor ``Die snob en sy liggaam''. Die ideale snob het glo 'n gemiddelde liggaamsbou. Maar dis voordelig om ietwat langer of groter te wees, sodat jy met gemak op andere kan neerkyk. Só 'n houding laat jou moeiteloos in aansien styg, terwyl 'n verfynde, natuurlike elegansie op 'n verdere graad van superioriteit dui. Daarom bestaan daar ook nie te veel klein snobs, of snobs met boggels nie; die snob het meestal 'n goeie `lyn''.

    Snobs het snob-netjiese hande. Hulle is ingestel op skoonheid en gerief, beskik oor flair en intuïsie, en is delikaat en sjarmant. Hul houding spreek van 'n soort roekeloosheid, en hulle respekteer geen taboes, etiket en konvensie nie. Hulle is ook liewer intellektueel as liggaamlik bedrywig. Aangesien kosmetiese chirurgie iets uit die bose is, sal hierdie liggaamlike voorwaardes moontlik vir vele 'n struikelblok vorm. Al kan jy nie self 'n volwaardige snob word nie, is hierdie gids nogtans handig om aspirerende snobs mee uit te ken en 'n spreekwoordelike stok in hul wiel te steek. Dit word egter aanbeveel dat dié publikasie nie 'n al te prominente plek op jou boekrak inneem nie.

    Verwerk en vertaal deur Zandra Bezuidenhout